Ek is ‘n introvert gebore en van nature stil, skaam en teruggetrokke. En dít spreek van ‘n lewe van eensaamheid. My suster daarenteen is baie uitgaande, lief vir die verhoog en het altyd ‘n groot vriendekring gehad
waarvoor ek haar voortdurend beny het. My agtergrond is baie stabiel en ek het twee dierbare ouers wat in ‘n gelukkige huwelik saamgesnoer is van in die 50 jaar. Vanuit daardie beskermde en gelukkige milieu het ons baie liefde ontvang wat die herinneringe aan ons kinder-en jeugjare daar in Bellville baie aangenaam maak. Ek is innig dankbaar teenoor die Here dat ek in sulke omstandighede kon grootword. Op skool het ek slegs enkele vriende gehad, maardit het my nie gepla nie omdat ek op my gelukkigste was wanneer ek alleen was. ‘n Skaam mens is ook meer sensitief en dit vra nie veel om hom nog dieper in sy dop te laat kruip nie. Dit was toe ook wel die geval toe ek in st. 7 was. Die onderwyser en die seuns in die klas het agtergekom dat ek baie maklik bloos en kort-kort is ek gespot. Om mondeling en ‘oral’ te praat was vir my ‘n absolute traumatiese ervaring! Dae voor die tyd is ek deur vrees geteister en die bose het my ag jaar lank met hierdie band van mensevrees gebind! Sosiaal kon ek glad nie aanpas nie. My tienerjare was jare waarin vrees en spanning dag na dag aan my gevreet het. Ek kon myself - hoe ek is en hoe ek lyk - net nie aanvaar nie. Die gevolg daarvan was natuurlik selfverwerping en baie vrae: “Hoekom bloos ek tog so maklik?” of “Hoekom het ek ‘n rooi gelaatskleur?”...hoekom, hoekom, hoekom ...” My selfbeeld was aan flarde en my minderwaardigheidskomplekse baie groot!
Watter rol het godsdiens in daardie stadium in my lewe gespeel? Wel, ek het ‘n tipiese Afrikaanse Christelike opvoeding gehad wat Kinderkrans, Sondagskool, CSV en absolute getroue kerkbywoning ingesluit het. Maar dit was leeg en blote vorm. Tog het ek die werking van die Here van kleins af in my lewe ervaar. Soggens en saans het ek my stukkie uit die Bybel gelees en gebid, want so het ek grootgeword en dit was deel van my opvoeding. Ek is gedoop, aangeneem in die kerk en het selfs ook ‘n sogenaamde bekeringsdatum gehad wat vals was omdat dit op blote gevoel en emosie gebasseer was. Ek het aan ‘n dag en datum en nie aan Christus vasgehou vir my saligheid nie. Vir lank was dit ‘n vals fondament in my lewe. Die gebrek aan geestelike vrug in my lewe was die duidelikste bewys dat die Ware Lewe in my lewe nog ontbreek het! ‘n Groot leemte was dat ek nooit, hetsy deur ‘n persoonlike gesprek of deur die prediking, ‘n duidelike aanbieding van die evangelie van Christus en gevolglik ‘n kans op redding gekry het nie. Van WEDERGEBOORTE, wat dit is en dat dit ewig belangrik is vir toegang tot Gods Koninkryk, het ek nooit van gehoor nie. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” (Joh.3:3)
Na skool het ek in 1987 en 1988 my Weermagopleiding gaan doen wat wonderlike kwaliteite en karakter in ons ingebou het. Die Weermag maak mos van jou ‘n man en ek het gedink dat ek ook deur ervaring, ouderdom en harde fisiese oefening van die onnatuurlike mensevrees ontslae gaan raak. Ek het toe nog nie besef dat verlossing en oorwinning slegs deur ‘n Goddelike ontmoeting en ingrype van God in my lewe moontlik is nie. Nou, weg van die beskerming van die ouerhuis, het die storm daarbuite gewys dat my geestelike huis al die tyd op sand en nie op rots gebou was nie. Die stormwind het die vals fondament begin oopwaai!
In dié tyd het ek in ‘n ander rigting ‘ontpop’. Die stil, skaam en vroom seun het nou ‘n draai in die wêreld gaan maak! Nou dat ‘n mens vergewe en gereinig is maak dit seer om daarvan terug te dink, want ek sien sonde nou soos God dit sien. Vir byna vier jaar het ek op die dans-en diskovloere gelewe. Waar ek as tiener my voorheen nie aan die jongste giere en grille gesteur het nie, was ek nou op die voorpunt. Dans, moderne popmusiek en modes is soos ‘n dwelmmiddel. Tydelik gee dit vir jou soveel selfvertroue dat jy berge kan versit, net om daarna soos Cinderella weer in dieselfde ‘ou self’ te verander in die stilte en eensaamheid van jou kamer. Die musiek sterf weg en jy sit weer met jouself opgeskeep, want ‘jyself’ is tog jou grootste probleem en vyand. Sê Jesus dan nie juis in Luk.17:3 “Pas op vir julleself.” nie? Die duiwel se aanslae op my lewe deur die kragtige wapen van vrees het al erger geword!
Na Weermag het ek vir drie jaar aan die Kaapse Technikon gestudeer. In my tweede jaar in die Weermag het ek baie soekend na God begin raak. Teen dié tyd het ek geweet dat net Hy alleen my sal kan help. Stadig maar seker het die Here my begin inkatrol. In my soeke het ek meer begin Bybel lees en nog meer getrou kerk toe gegaan, maar my godsdienstige poging om gered te word het sake net vererger. Hoe meer ek gesoek het, hoe hewiger het my stryd en die vreesaanvalle van die bose geword! Volgens Efésiërs 2:8 en 9 word ons “uit genade gered, deur die geloof...nie uit julleself nie...nie uit die werke nie...” Met hernude ywer het ek verder met my goeie pogings en goeie werke probeer om my saligheid te verdien. Vir my as ‘n goeie mens en getroue kerkganger was dit baie moeilik om te besef en te erken dat ek ook ‘n verlore sondaar op pad na die hel is. God moes aan my openbaar dat ek ook doemwaardig is, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Rom.3:23) (Dit was in dié tyd dat die boek “Eenweg Koffiekroeg” deur Annalou Marais oor my pad gekom het en wat instrumenteel in die hand van God was Nie alleen het dit ‘n besliste en defnitiewe invloed op my redding gehad nie, maar ook later lig en leiding gegee wat my roeping betref.) Nou was ek egter desperaat en ‘n totale wrak.
God se afspraak met my was in my ouerhuis in Bellville. Dit was op 1 Julie 1990 om 00:30 die oggend. Na die lees van Annalou se boek, het ek op my knieë langs my bed gekniel en tot God gebid! Dáár het God my siel gered...dáár het ek tot bekering gekom! Dit was die tyd “toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar...” (Gal.1:15 & 16). Ek kan nie veel van my gebed onthou nie, maar ek onthou duidelik dat ek die Here gevra het om in my lewe in te kom.... dat Hy my lewe moet beheer...dat ek moeg is vir die geweldige stryd en nie langer so kan aangaan nie! My behoefte aan die VREDE van die Vredevors in my hart en VREDE met Hom was oorweldigend. Die wedergeboorte was stil en sag, maar defnitief. Toe ek later die oggend opstaan het alles nuut, helder en vars gevoel en gelyk! ‘n Diepe Goddelike vrede het my wese deurstraal. Ná my ontmoeting met Christus het ek onder ‘n toenemende sondebesef gekom. Noudat die Heilige Gees in my woon, het Hy my al hoe meer oortuig van sonde! Een vir een het ek my sondes voor die Here bely en laat staan. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” (Spr.28:13) Waar ek dinge met mense moes regmaak het ek dit met vreugde gedoen en het geen steen onaangeroer gelaat om die hemel tussen my en God wolkloos te hou nie! Dit is ‘n Goddelike belewenis om te ondervind dat “die bloed van Jesus Christus (jou) reinig...van alle sonde.” (1Joh.1:7) O, die kosbare BLOED van Christus! Wat is soeter as die vergifnis van jou sondes...die getuienis van die Heilige Gees in jou hart dat jou sonde vergewe en jy nou God se kind is! “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons
kinders van God is;” (Rom.8:16) Geloofsekerheid,die wete dat jou saak met God reg is en dat jy WEET dat jy hemel toe gaan die dag as jy sterf, bring ‘n wonderlike standvastigheid in jou dié lewe! Loof God vir sy reddende genade!!!
Van die dansvloer tot die dorsvloer...die sonde en die wêreld moes nou uitgewan word! Wat my stryd met mensevrees betref, het ek nodig gehad om ‘n pad met die Here te stap om daarvan verlos te word. Die verlossing het nie oornag gekom nie. Ek was geestelik nêrens aktief ingeskakel nie, want ek was te bang en te skaam. Vir ongeveer sewe maande lank het die Here my alleen in my kamer onderrig. My enigste geselskap was Jesus, my Bybel en Radiokansel. Só het ek al sterker in Hom geword. Later het ek daarvan bewus geword dat die Heilige Gees in my na die gemeenskap met ander gelowiges smag. Ook het die begeerte om vir die Here te gaan werk al sterker in my geword. Dit was lynreg teen my persoonlikheid en geaardheid in, want dit beteken dat ek met mense moet werk en ek kan nie... ek wou nie! Dit was dan juis die rede waarom ek Tuinbou gaan studeer het, want plante het nie tonge wat jou seermaak of spot nie. “Ja Here,” was my aanvanklike ooreenkoms, “ek sal administratiewe werk of iets vir U gaan doen, maar ek wil net nie met mense werk nie!” Ek het God se wil gesoek. My selfbeeld was nog steeds aan flarde en in my eie oë het ek niks beteken nie. “Here, waar en hoe kan ek vir U gaan werk?” Die Here beskik dat daar ‘n telefoonnommer oor my pad kom...ek skakel...ek skrik... Straatwerk!! “Jy gaan met wildvreemde mense op die sypaadjies by die nagklubs van Kaapstad en Seepunt oor die Here Jesus praat!” sê ek vir myself. “Here nee, ek kan nie! Ek kan skaars met bekende mense kommunikeer. Wat nog te sê van wildvreemde mense?” Maar dit is God se wil en ek moet en wil Hom gehoorsaam! Deur geweldige vrees en spanning probeer die duiwel my weghou van die Straatwerkskolingskurses, maar God gee my die krag en ek gaan! Daardie naweek van Maart 1991 word een van die wonderlikste naweke van my lewe! Vir die eerste keer ontmoet ek ander jongmense wat Jesus ken en Hom voluit wil dien! Ons was daardie naweek seker so 80 jongmense wat die skolingskamp in ‘Trovato’, ‘n pragtige ou herehuis in Wynberg wat in 1898 gebou is, bygewoon het. Dit was die hoofkwartier van Ichtus Straatwerk met ds Pietie Victor as die stigter en leier daarvan. Hy was ‘n Godsman vir wie ek oneindig baie respek gehad het en dit wat hy geestelik en kultureel in ons jongmense se lewens ingebou het is absuluut van onskatbare waarde. Ek is te skaam en te bang om met mense te praat, maar die roeping van die Here het so in my hart gebrand! Daardie Sondagaand het ek ons kerk se aanddiens bygewoon en ek wou in trane uitbars toe ek ervaar hoe God daar sy hand op my lewe lê en my roep! Ek wou huil omdat die aakligheid van sonde en die ontsaglike sielenood daar in Kaapstad my hart aangegryp het. Ek wou huil omdat my hart brand om te getuig, maar my lippe kan nie. Ek wou huil omdat ek soos Moses gevoel het wat deur God gestuur word, maar nie kan praat nie! Jeremia het gesê dat hy te jonk is toe God hom roep en Saul het in sy volle lengte agter die pakgoed weggekruip toe hy as koning gesalf moes word, “maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.” (1Kor.1:27-29)
Ek kon nie wegbly van een van die straatwerkuitreike nie en het elke naweek deurgery Kaapstad toe. Hy het my ‘n kosbare les geleer: “My kind, Jy kan nou nog in jou kamer bid vir verlossing van mensevrees, maar dit sal nie gebeur nie. Ek plaas jou in die situasie waarvan jy nog altyd weggevlug het en ín die situasie gee Ek jou oorwinning en maak Ek jou vry.” God moes eers met my daar op die sypaadjies van Kaapstad werk, voordat Hy deur my kon werk! Ek kon aanvanklik nie die afbreekproses deur God in my lewe verstaan nie, tot iemand eendag vir my gesê het: “ ’n Man van God het gesê dat God die hemel en aarde uit niks uit geskape het. Daarom moet ons ook eers niks word voordat Hy iets van ons lewe kan maak.” Ek het geen vrymoedigheid gehad om te getuig nie en wat my baie ontstel het was dat ek terugverlang het na die musiek en atmosfeer wat binne in die plesierplekke is! Hoe is dit moontlik het ek gewonder, hoe kan ek met mense hier buite oor die Here wil gesels, maar tog nog begeer en hunker om daar binne te wees?! En só het God aan my uitgewys dat ek dubbelhartig is: ek wil Hom én die wêreld dien en die Skrif sê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1Joh.2:15) Iewers lees ek ‘n kosbare les: “ God het sy volk uit Egipte (tipe van die sondige wêreld) onder die mag van Farao (tipe van die duiwel) uitgelei (wedergeboorte/redding) en is met hulle op pad na Kanaän (tipe van Geesvervulde lewe). Maar op pad het hulle in die woestyn (tipe van val en opstaan Christelike lewe vol neerlaag en swig voor versoekings) begin terugverlang na Egipte se kos en lewe.” En toe die woorde wat my probleem uitwys: “Hulle is uit Egipte, maar Egipte is nog nie uit hulle nie!” Ek weet ek is gered, ek kan getuig dat God my uit Egipte uit die wêreld gelei het, maar ek ek wéét dat die wêreld nog nie uit my is nie! Dít laat my terughunker na die plesiere van die wêreld! Dít is wat my dubbelhartig maak!
Na ‘n mens se bekering werk die kruis al dieper en dieper op elke terrein van jou lewe in. Dit wat vir die deursnee kerkmens goed, reg en aanvaarbaar is, begin nou ewe skielik vir jou pla. Wat gaan aan? Ek begin nou ‘n vraagteken plaas oor aktiwiteite, plekke en dinge waarmee ek voorheen geen probleem gehad het nie. God openbaar aan my dat ek gelykvormig aan die wêreld is en dit maak my dubbelhartig. My liefde vir die wêreld het my getuienis kragteloos gemaak en my boonop beroof van my vrymoedigheid om te getuig. Dit het ook meegebring dat ek geen oorwinning oor sonde gehad het nie. Tydens ‘n straatwerkuitreik haal iemand Hebr 12:14 aan: “Jaag die vrede na...en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.” ‘n Klein saadjie is gesaai, maar die Heilige Gees werk ‘n onversadigbare honger en dors in my hart na HEILIGHEID en REINHEID. Dit was ‘n soeke na God se heiligheid en persoonlike heiligheid wat ek nie kan beskryf nie! “ Want dit is die wil van God: julle heiligmaking...” (1 Thes.4:3) Saam met ‘n KJA woon ek Herlewingsdienste by wat by Tygerberg Hospitaal se fasiliteite gehou word. Die spreker praat oor heiligheid, wêreldgelykvormigheid, die Bloed van Christus en Geesvervulling. Die aand van 24 Julie 1991 het God ‘n persoonlike herlewing in my lewe laat plaasvind! Ek was só onder oortuiging van sonde! Die getroue Heilige Gees wys my al die sondes in my lewe uit wat my as Sy tempel verontreinig. Ja, ek het die Gees met wedergeboorte ontvang, maar ek het nog nie ‘n volle oorgawe aan die Heilige Gees gemaak nie. Die spreker rig ‘n uitnodiging aan almal wat nog nie met die Heilige Gees vervul is nie, om te reageer. Ek doen kosteberekening: “Ja Here, ek is nie meer as ‘n oorwinnaar in Christus nie en ly neerlaag.” Skaam loer ek uit die hoek van my oog om te sien wie staan. Heelwat jongmense staan. Ek staan ook. “Here, ek gee ALLES...kom vul U tempel met U Gees.” Die prediker doen ‘n eenvoudige gebed en die diens is verby. Ek sal nooit daardie oomblikke van God se liefde en vrede vergeet nie! Ek het die reiniging van Jesus se Bloed ervaar...ek het so skoon en lig gevoel! Die hunkering terug na die ou lewe is weg... die ou dinge het waarlik verbygegaan! Maar ek moet dag en nag oor hierdie seën waak. Ek het my besittings noukeurig uitgesorteer en alles wat nie tot eer van die Here was nie, vernietig. “Want die Here jou God wandel midde in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie.” (Deut. 23:14) In elke opsig van my ganse lewe wou ek nou skoon en rein wees. As ‘n getuie het daar ook ‘n drastiese verandering in my lewe gekom. Ek het oorgeborrel van Jesus en een van my medestraatwerkers het nog vir my gevra wat met my gebeur het. Ja, Geesvervulling maak die beeld van Christus in jou sigbaar. Met oorgawe, vrymoedigheid en krag het ek nou getuig. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees...” (Hand 1:8) En dis ‘n belofte wat God in my lewe kom waar maak het. Ongeag wat jou persoonlikheid, temperament, tekortkominge of verskonings ookal mag wees, as God se Gees eers oor, in en deur jou vaardig geword het, SAL JY ‘N GETUIE VAN JESUS WEES, want Hy werk ten spyte van al hierdie dinge!
En die mensevrees? God het my hemelse oorwinning gegee wwaroor ek moet waak... “omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” (Rom 5:5) en “die volmaakte liefde dryf die vrees na buite...” (1 Joh. 4:18). Toe God my met sy Heilige Gees vul moes die mensevrees wyk! Prys die Here! Hy het my van oorwinning tot oorwinning gelei en ek het krag en vrymoedigheid gehad om te getuig! My gebrekkige selfvertroue is vervang deur Godsvertroue, my stukkende selfbeeld deur ‘n Godsbeeld deur al meer gelykvormig te word aan die beeld van Jesus Christus. “En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die HERE, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.” (Jes.29:19)
In 1992 stuur die Here ‘n boek, “Pinksterrevolusie” van dr. J.G.C. Kotze (dalk beter bekend as oom Kolie) oor my pad wat die hele boodskap van Geesvervulling en heiligmaking vir my oopbreek. My hart is brandend terwyl ek die boek deurlees en die Heilige Gees bevestig die werk wat Hy in my siel gedoen het. Die kruisweg van heiligmaking was vir my ‘n vreemde, maar wonderlike pad om te loop! Teksverse soos 1 Pet.1:15 en 16 het ek nou werklik eerstehands ondervind: “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” My belewenis van die Geesvervulde lewe was vir my die beste opgesom in die woorde van Jesus van Joh.10:10 waar Hy gesê het, “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.” En ek het dit regtig ondervind! Dit was ‘n daaglikse wandel van selfverloëning, my kruis opneem en die Here Jesus volg! (Lukas 9:23) Wat ‘n wonderlike wete en belewenis is Gal.2:20 nie: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” O, om te kon ondervind dat daardie ou ‘eie-ek’ saam met Jesus gekruisig is en dat Hy in sy volheid nou in en deur my leef! Weens gebrek aan kennis, lig en leiding het ek algaande in WETTISISME begin verval. Dit het ongeveer ‘n jaar nadat die Here my met Sy Gees vervul het begin. Omdat ek vroeër so wêrelds was, het ek nou absoluut in die teenoorgestelde rigting beweeg. Alles wat met die wêreld te doen gehad het, was vir my sonde. Ek het vir myself die vreemdste stelle reëls en regulasies gemaak om ‘heilig’ te wees. My godsdiens het nou bestaan uit ‘n klomp ‘moets’ en ‘mag nies’ en ek het begin om ‘n uiters ongebalanseerde geestelike lewe te lei. In Kol. 2:20 word die vraag gevra waarom is ons nog “...onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?- almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan - volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.” Aanvanklik was ek vas oortuig dat dit alles van die Here was. Die skok was egter baie groot toe God na amper drie jaar aan my geopenbaar het dat die “brullende leeu” hom in ‘n “engel van die lig” verander het. So beland ek toe in die bose web van wettiese gebondenheid en word ek heel eksentriek. Ek het in ‘n askeet begin verander. Soos ‘n monnik het ek myself begin afsluit van die wêreld omdat ek sonde in alles gesien het. Ek het probeer om so onaantreklik as moontlik te lyk. Soetgoed het het glad nie meer geëet nie, want vir my was dit sonde om enige iets te geniet. Ook het ek nie meer gelag nie, want ek het geglo ek moet ernstig wees. Ek het totaal en al my vreugde in die Here verloor. Ek kon nie meer onderskei tussen die leiding van die Heilige Gees en die aanklagte van satan nie. Impulsief het ek kort-kort besluit om te vas en dan dikwels vir kilometers en kilometers in die natuur gaan stap. Omdat ek doelbewus wou koud kry as’n tipe van kruisiging van die vlees, het ek op die ou end skade aan my longe opgedoen wat tot vandag toe nog daar is. Die bose Faraosgees van slawerny het my tot die uiterste gedryf. My gees was siek...ook fisies het ek begin agteruitgaan en vriende het begin bekommerd raak. In Hebr 3 en 4 nooi die Here ons om in sy rus in te gaan wat net ‘n ander beskrywing van die vervulling met die Heilige Gees is. Jesaja 28:12 som my toestand baie mooi op: “Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.” Ek het eerder verkies om deur dooie werke van eiegeregtigheid die front van heiligheid voor te hou. Die gevolg daarvan om die rus van die Here te verlaat sien ons in v.13: “Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.” En hoe is ek nie verstrik en gevang in erge graad van wettisisme nie! Dit was ‘n baie swaar en donker tyd, maar ook nodige jare in my geestelike lewe. Tóé kon ek dit nie verstaan nie aangesien ek dan so toegewyd aan die Here was, maar ek het fanatisisme met toewyding en heiligheid verwar. Ek het verander in ‘n morbiede mens wie se lewe ander afgestoot het!
In 1993 was my eerste kennismaking met die Afrika Evangeliese Bond (AEB) wat in 1924 as ‘n interkerklike sending hier in Suid-Afrika gestig is. Die studente en pelgrims het ‘n geweldige indruk op my gemaak. Mens kon Jesus in hulle lewens sien en hulle het ‘n reinheid uitgestraal wat nie van hierdie wêreld was nie. God het my in 1995 na hulle Bybelkollege, Glenvar, geroep en daar het Hy begin om my van wettisisme, dooie werke en eiegeregtigheid te stroop. “My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem.” (Job 19:9) Ek moes al daardie werke van eiegeregtigheid voor God as sonde bely. “hoeveel te meer sal die bloed van Christus , wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.” (Hebr.9:14) Opnuut moes ek die Here vertrou om my met sy Heilige Gees te vul. Watter hemelse openbaring was dit nie... “Christus Jesus, wat vir ons geword het...heiligmaking...” (1Kor 1:30). Heiligmaking en ‘n Geesvervulde lewe is nie‘n stel wette en reëls nie, MAAR DIT IS ‘N PERSOON! DIT IS JESUS CHRISTUS! Van vooraf moes ek leer om in volkome oorgawe in God te rus sodat die lewe van Jesus spontaan en natuurlik deur my na buite kan vloei. In1996 het die heerlikheid van God na Sy tempel teruggekeer...ook die vreugde!! Ek moes weer leer léwe, en hoe heerlik is dit nie, want die ware lewe is Christus Self! Prys die Vader, Seun en Heilige Gees! Aan God al die eer!