Meld Hier Aan

Taylor Ridgard Getuienis

Redding

Ek sal die HERE altyd dank vir my ouerhuis. My pa is oorlede toe ek 5 was na hy en my ma gelukkig getroud was vir 20 jaar. My ouer broer verskil 5 jaar van my. My ma is 'n Godvresende vrou wat die HERE waaragtig as 'n tiener meisie gevind het in 'n tentdiens onder die prediking van Ds Gert v Rensburg. My oupa en tannie het ook daardie dag die wonder van die Wedergeboorte gesmaak. My ouma het 'n paar jaar voor dit die HERE gevind en van my jongste herrineringe is beide oupa's en ouma's wat met God gewandel het asook my ma op haar knieë laat aand en vroeg oggend.

31 Desember 2000 stap 'n tiener meisie langs die strand van Jeffreysbaai saam met haar vriende. Hulle het hul matriek eksamen gaan vier. Die hele vakansie was een groot lang partytjie. Sonder ouer toesig kon hul hul sonde geniet, alkahol en ander dwelms gebruik. Hulle was goddeloos. Terwyl hul daardie aand langs die strand stap kom die gedagte skielik by haar dat as die HERE nou moet terugkom, gaan sy reguit hel toe, en almal om haar! Sy't haarself nugter geskrik. Die vrees van die HERE was in haar hart. Sy't later daai nag, langs 'n toilet in hul woonstel tot die HERE geroep, omdat dit die enigste stil plek is wat sy kon vind. Daar het die HERE haar sonde vergewe, haar nuut gemaak. Toe ek my niggie na daardie vakansie sien kon ek nie glo sy is dieselfde mens. Sy't skielik haarself ordentelik aangetrek en die HERE se Woord begin lees. 2 Kor 5:17 is die waarheid. Ek het stilweg na haar getuienis geluister by die maatskappy waar ek vir haar pa gewerk het. Dit was 'n wonderlike getuienis maar ook verskriklik omdat ek diep in my hart geweet het ek ken nie haar God. Ek weet van die Here Jesus, maar Hy leef nie in my. Een dag, 10 Sept 2001 het ek skielik onder oortuiging gekom, en al wat ek kon uiter was die woorde: "Ek moet vandag huistoe gaan en my sak met die HERE regmaak". Daardie middag na werk, alleen by die huis, alleen in my kamer gekniel langs my bed het ek as 20jarige na die HERE geroep, my sonde voor Hom bely en ervaar hoedat Hy my sondelas wegneem, en in My hart kom woon. Ek't die Bybel wat my ouma vir my gegee het oopgemaak en begin lees. Skielik was dit lewende Woorde. Ek wou nie ophou. My niggie het my die volgende dag na hul kerk genooi vir 'n spesiale reeks dienste. Daardie aand in die kerk het ek my Bybel tydens die diens teen my bors vasgedruk en die HERe gedank dat ek Hom nou mag ken!

 

Roeping

Dieselfde middag, deur die trane en vreugde van die ontmoeting met die HERE Jesus, lees ek onder andere 'n gedeelte (nog al die tyd op my knieë met ouma se Bybel oop voor my). Ek lees in Prediker 1-12. "Alles tevergeefs en 'n gejaag na wind..." Skielik dink ek aan my werk, my deeltydse studies en AMWAY (Netwerk bemarking) wat ek in die aand na my gewone werk gedoen het. Als, saam met al my ambisie het soos nietigheid gelyk. Die gedagte kom toe by my dat dit bekend klink en dat daar 'n versie in ons sitkamer op 'n hout ornament gegraveer is. Ek staan toe op, stap na die sitkamer en vind die bordjie. Daarop staan die Woorde geskryf: "Maar soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word" Matt 6:33. Net daar het ek bo alle twyfel geweet dat God my roep vir Sy diens. Daar op die blou sitkamer mat, het ek die tweede keer daardie middag gekniel en vir die HERE 'n onvoorwaardelike "JA" gesê! Ek het met vrees en bewing werk toe gegaan en kennis gegee. Tot my verbasing was my oom baie bly. Ek't kort na die dag by 'n AEB konferensie met Mnr Myburgh gepraat en aansoek gedoen om na die AEB se Bybelkollege te gaan vir opleiding. Ek't nog drie maande gewerk na my redding en roeping 10 Sept 2001. Januarie het ek klaar gemaak by my werk en 'n week later by die Bybelkollege begin. Na die opleiding het ek aansoek gedoen om voltyds in die geledere van die AEB te arbei as Evangelis waar ek steeds in Christus se heerlike diens is, deur Sy Genade.

 

Heiligmaking

Voortdurend deur my twee jaar opleiding by die Bybelkollege het ek gevind dat ek dinge halfhartig gedoen het. Ek was soms vleeslik en selfsugtig en het baie stryd gehad soos die HERE my begin vorm het. Vir my was die Bybelkollege net 'n 'means to an end'. M.a.w ek wou net Bybelkollege verby kry om 'n sendeling te word. Maar die HERe het egter die Kollege gebruik om my te wys hoe ek gelyk het van binne. By my bekering het ek 'n oortuiging van sonde en verlorendheid gehad, maar die dag met my diplomadiens (Einde 2003) was ek onder oortuiging van behoefte! Ek't daar gesit en na my medestudente gekyk wat met soveel oorgawe alles aangepak het. Hulle het die HERE met hul lewe gedien. Ek't so 'n begeerte gehad om na die HERE te vlug en als vir Hom te gee. Dis presies waaroor Oom Pieter Scholtz gepreek het: 'n Volle Oorgawe. Ek't agtergebly na die diens terwyl al die mense en studente in die kollege gebou gaan tee drink het. Daar kon ek saam met Oom Pieter bid en 'n volle oorgawe maak. Ek kon my vleeslike sonde voor die HERE belei, en het Hom gevra om my hart te reinig en te vul met Sy Heilige Gees! Die vreugde in my hart was onbeskryflik. Skielik was daar oorwinnig in my lewe en 'n bonatuurlike toewyding vir solank ek naby die Here gebly het en aan Hom vasgehou het. Daar was 'n las vir siele, nuwe liefde vir Sy Woord en oorwinning oor sonde soos in my gedagtes.

Aan die HERE kom toe al die lof en eer!