Meld Hier Aan

Hanno Hoogenboezem

 

Ek het van kleins af 'n redelike goeie lewe gelei, kerk toe gegaan en nie “groot” sondes gedoen nie. Ek het in 'n Godsdienstige huis groot geword en gelewe op 'n manier wat meeste mense gedink het ek is 'n “goeie” Christen.

In 1992 (op universiteit) het ek op 'n konferensie onder 'n besef gekom dat ek 'n verlore sondaar is, Het my sondes bely en laat staan en is ek weergebore.

Ek het begin om my Bybel te lees en nie genoeg gekry daarvan om van die Here te leer nie. Ek het ook betrokke geraak by evangelisasie (EE3) en het ook begin uitreik (sopkombuis ens.). Verder het ek betrokke geraak by 'n sel groep buiten kerkdienste en biduur. My lewe het werklik verander.

Toe ek egter 'n paar jaar later begin werk het het ek sonde in my lewe begin toelaat wat tussen my en die Here gekom het (eers klein en later groter – Mens val meestal nie dadelik in groot versoekings nie maar swig voor die kleineres totdat jou hart stomp word daarvoor dan kom die groter versoekings) – nie dinge wat die mense in die kerk en in my vriende kring sou agterkom nie. Dit het my egter van alle vrymoedigheid beroof. Ek het in vorm Godsdiens voort geleef het en baie betrokke by die kerk en die dinge van die Here gebly het.

Al was ek besig met die kerk dinge het ek my persoonlike verhouding met die Here meer en meer begin nalaat totdat daar vir praktiese doeleindes geen verhouding met die Here oor was nie. Ek het steeds met my vorm Godsdienstige lewe aangegaan, niemand in die gemeente het eers agtergekom dat daar geestelik fout gekom het nie. Ek was selfs 'n diaken in die gemeente (selfs die kerkraad en predikant kan ook nie op God se standaard leef nie – kyk na Christus as die standaard en lewe so!)

Ek het ook steeds my 10de en meer vir die Here gegee en God het my ook geseën met goeie finansies. (Voorspoed op finansiële gebied waarborg ook nie 'n gesonde geestelike lewe nie).

Einde 2009 het die Here egter in sy groot genade iemand oor my pad gestuur wat met my tyd gemaak het en het ek besef dat ek nie meer in 'n lewende verhouding met die Here staan nie. Ek het ook besef dat die sonde in my lewe tussen my en die Here staan.

Ek het die sondes waarvan ek bewus was alles voor die Here bely en laat staan en die Here gevra om my opnuut weer te vergewe en het my hart weer opnuut aan die Here oorgegee.

Ek het ook weer tot die besef gekom dat die Here 'n baie hoër standaard het as wat ons meestal bereid is om te erken. Ek strewe nou om heiligmaking in Jesus Christus deelagtig te word.

Ek weet ook nou verseker dat as ek vandag te sterwe kom ek hemel toe sal gaan.