Ek wil graag die wonderlikste dag in my lewe met julle deel. Op 12 Januarie 2010 het ek Jesus aangeneem en Koning van my lewe gemaak, en het Hy my kom wederbaar.
Ek het grootgeword in ‘n ouerhuis waar my pa predikant was, en ons kinders het maar elke Sondag kerk toe gegaan saam my ma, maar ek weet as kind het ek maar elke keer gegaan omdat ek moes. Alhoewel my pa predikant was, het ek nooit enige iets van wedergeboorte gehoor nie, en my pa wat predikant was, het gepreek vir sy gemeente, maar intussen het hy sy vrou en sy kinders presies die teenoorgestelde hanteer, so met die verloop van tyd het daar ‘n leemte in my hart ontstaan en my hart het baie hard geword oor ‘n vaderfiguur nooit daar was… ’n behoefte aan vaderlike liefde het ontstaan. My ouers is toe geskei toe ek 13 jaar oud was, en ek is gestuur na die koshuis. Ek het rebels geraak, want dit het begin voel of ek nêrens inpas nie. Ek het universiteit toe gegaan vir ‘n jaar, en daarna moes ek my studies stop, want my pa wou nie meer my studies betaal nie, want hy het weer getrou, en het toe ons vier kinders laat afteken vir ‘n klein bedraggie geld. Die leemte in my hart aan Vaderlike Liefde het nog groter geraak. Ek het die wêreld begin dien, begin rondval tussen werke, rondgekuier in restaurante, gemeng met heeltemal verkeerde vriende, my moeder daagliks soos gemors hanteer. Ek het uit die huis getrek na Kimberley, waar alles net nog slegter as ooit geraak het. Ek het niks meer gevoel nie, ek het die wêreld gejaag, want dit het gevoel of die lewe my jaag. Ek het begin kerkdienste bywoon in Kimberley, en alles gepraat wat al die mense praat elke Sondag, en ek het selfs buite die kerk Jesus begin praat teenoor almal, maar van binnekant af was ek verrot. Die leemte in my hart het onbeheerbaar geraak,en so het dit aangegaan, tot ek eendag aansoek gedoen het vir werk in die Wes-Kaap. Ek het geen idee gehad hoekom ek nou eintlik juis in die Kaap aansoek doen nie, maar ek het dit steeds gedoen, en tot my verbasing het ek dit toe gekry. Ek was baie lank besluitloos, maar het die werk toe aanvaar.
Net nadat ek in die Kaap aangekom het, het ek ‘n sendingpaar Marius en Madelein ontmoet, en God het hulle as instrumente gebruik om met my te begin werk. Hulle het my begin vertel van wedergeboorte, hulle het my vertel wat redding is, en my vertel wat ‘n persoonlike verhouding met God alles behels, alles dinge wat ek nog nooit gehoor het in my ouerhuis nie. Daardie nag kon ek nie slaap nie, my hele lewe het voor my begin afspeel, ek het met ‘n groot skok besef ek praat Jesus maar ek is so vêr van Hom af soos iets verskriklik. Spreuke 14:12. Ek het besef dat daar iets soos wedergeboorte is, en dat ek dit nie het nie – Joh3:3-4, ek het heeldag deur al die versies gegaan wat hulle vir my uit die woord van God gegee het. Ek kon dit nie meer hanteer nie, die gejaag na wind, die leemte in my, die aaklige dinge in my lewe en die mense wat ek vernietig daarmee kon ek nie meer vat nie, ek het ‘n dringendheid in my gekry om net my saak reg te maak met God. Daardie middag het ek saam Madelein op my knieë geval, ek het my sondes voor Jesus bely, en Jesus gevra om my te vergewe, al my aaklige sondes skoon te was, en my te kom wederbaar, en Hy het dit toe daardie middag 12 Januarie 2010 waarlik vir my kom doen! Hy het Hom neergebuig na my, en my hulpgeroep gehoor, Hy het my voete op Sy rots kom plaas – Psalm 40:2-4. Ek was nou ‘n nuwe mens in Christus – 2 Kor. 5:17, my lewe het 180˚ omgeswaai. Ek het vir die Here gevra vir ‘n bevestigins vers en Hy het toe vir my 1 Johannes 3: 1 gegee. Vir die eerste keer het ek my Bybel elke dag begin lees en ‘n honger na die Bybel gekry, en gaan ek nou nêrens ooit sonder my Bybelsak nie, selfs my klere drag het verander, ek het alle klere wat ek gedra het toe ek in die wêreld was uit my kas gegooi, so ook alle CD's en DVD's, en selfs ophou TV kyk. Ek het met groot blydskap besef dat ek net geen begeerte aan enige een van daardie dinge meer gehad het nie. Een aand met my stiltetyd het ek iets wonderliks besef – daardie leemte in my hart wat ek so lank gehad het, vir Vaderlike liefde, het my Hemelse Pappa kom vul met my wedergeboorte. Wat ‘n wonderlike God dien ons nie! 21 Maart 2010 het ek die stap van gehoorsaamheid aan God geneem en is ek gedoop! Ek dank die Here net elke dag dat Hy besig is met Sy volmaakte plan in my lewe, en dat Hy nie sal ophou voordat Hy weer kom om my te kom haal nie….
Fil. 1:6.
My getuienis van die dag toe ek Jesus ten volle Koning van my hart gemaak het! (Heiligmaking)
Na my redding het ek die Here voluit gedien, ek het Sy woord bestudeer, en getuig waar ek kan. Kort na my redding, het Marius een oggend gepreek oor die tweede genadewerk wat die Here vir ons kan kom doen, en dat mens nie net by wedergeboorte kan bly nie, ons sal kragteloos wees in Sy werk. Alles was vir my baie nuut, ek het glad nie op daardie stadium verstaan waaroor alles gaan nie, want ek het gedink dat net wedergeboorte reg sal wees vir die Here. Maart 2010 het ek ‘n heiligheidskonferensie saam ons gemeente bygewoon, en daar het ek meer begin verstaan dat daar werklik ‘n tweede genadewerk is wat die Here in ons lewens kan kom doen, maar ek het gedink dis heeltemal buite bereik vir my, en doelbewus daarvan vergeet, maar dit was nie die plan van die Here nie. Ek besef nou dat die Here my hier al nader aan Hom begin trek het, en dinge vir my begin oopbreek het.
Soos wat my geestelike lewe aangegaan het, het ek bewus geword van dinge in my lewe wat nie reg is nie, soos geirriteerdheid, woede, ens… en daar het vrae in my hart ontstaan, want dit het vir my gevoel of daar iets kort. Die Here het gereeld met my kom praat deur bidure, Bybelstudies en Sondagdienste, ek het ernstig begin besef wat kort maar ek het die heeltyd myself moeg probeer veg om alles wat ek eintlik geweet het verrot is in my “eie ek”, uit myself reg te maak. Ek het uitgeroep soos in Romeinie 7 : 24 – “Ek ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood.”
Vrydag aand 24 Junie 2011 in ons Bybelstudie het die Here vir Marius gelei om ons hele gemeente te vra wat ons terug hou van heiligmaking en ons het weer gepraat oor die eie ek wat mens se lewe vernietig. Daar het die Here dringend met my gepraat, en Sondag 26 Junie, het die boodskap ook aangesluit by Vrydag aand se gedagte en ook oor die noodsaaklikheid van heiligmaking vir elke kind van die Here gegaan. Daardie middag toe ek by die huis kom, het die Here alles afgebreek wat nog in die pad was, my lewe het voor my afgespeel, binne ‘n oomblik het ek geweet die Here roep my om die stap in die geloof te neem, en die Here roep my om die stap in gehoorsaamheid tot Hom te neem, want dit is die wil van God, ons heiligmaking. Ek het in die boek “Die Ideaal van Volmaaktheid” gelees dat Jesus elke dag vir ons heiligmaking bid. Ek was voor ‘n kruispad, ek kon nie een oomblik langer meer so aangaan nie, ek het gesmag na meer, en na ‘n dieper verhouding met Jesus, Ek het ‘n lys opgestel van alle sonde wat toe nog in my hart geheers het, en ek het geweet dit sal ‘n baie hoë prys kos, maar ek het nie meer omgegee nie, ek was desperaat!
Daardie middag van 26 Junie 2011 het ek vir die tweede keer voor die kruis gebreek, ek het myself leeggemaak voor God. Ek het alles bely aan Hom en ek het Hom gevra om my te kom ontsondig soos Dawid gevra het in Psalm 51. Ek het ook my alles oorgegee aan Hom, en myself op die altaar gesit. Ek ag myself nou gekruisig, ek leef nie meer nie, maar Christus leef deur my! (Gal 2:20). Jesus het dit werklik daardie middag vir my kom doen, en Hy het dit dieselfde aand in my stiltetyd bevestig in Handelinge 2:26-287, en ook in Exodus 6:7. Met my hele hart weet ek dat Jesus my hierdie groot geskenk kom gee het met die doel dat ek sal uitgaan en Sy evangelie sal verkondig. Noudat ek krag uit die Hoogte ontvang het, weet ek dat as ek bereidwillig is om te rapporteer as dienskneg vir Jesus, en te gaan waar Hy wil hê ek moet gaan, sal Hy die res doen deur my. Alles wat voorheen van enige wins was vir my, ag ek as skade om die grootse wins ooit te hê, en dis Jesus Christus as Koning van my hart! Nou is my enigste hartsbegeerte om laag aan my Hemelse Vader se voete te wag op meer van Hom, om deur Hom gevorm te word en te gaan waar Hy my wil hê, sodat meer mense kan weet wat Jesus kan doen in ons lewens, solank ons Hom toelaat.
Alle lof en alle eer aan die Here!!
Amen