Button Gmbbeyqgmgh

E0131 Job se drie vriende

 

JOB 2:11-13 [4]

MENS KAN JOU BESWAARLIK INDINK dat iemand erger getref kan word as Job. Hy verloor al sy besittings, al sy kinders, en uiteindelik sy gesondheid. Trouens, hy is tot die dood toe siek.
Die volgende groot episode in die boek is die besoek van Job se drie vriende. Kom ons kyk eers daarna oorsigtelik en in algemene trekke.

'N MISPLAASTE LOJALITEIT

  • In Job 2:11 lees ons dat drie van Job se vriende hom besoek om hulle meelewing te betoon en om hom te bemoedig. Mooiweersvriende is hulle alles behalwe, want hulle kom van ver af. En hulle is goeie en godsdienstige mense met 'n ywer vir God se eer. Dit sou hulle woorde oor en oor onderstreep.
    Mens kan dus verwag dat hulle kuier Job sal opbeur en help om sy beproewing te verwerk. Dis immers waarom hulle gekom het. Maar dit werk nie so uit nie. Trouens, hulle gaan Job se bykans ondraaglike lyding nog baie erger maak. Hulle wat onder die wyses van hulle dag tel, gaan die bal liederlik misslaan  -  omdat hulle God en Sy weë nie ken soos hulle dink nie.
    Tog moet mens nie hierdie vriende geringskat nie. Hulle gee regtig om vir Job (2:12-13). En hulle verteenwoordig die room van destyds se samelewing. Juis dit is wat dit vir Job so swaar maak. Was hulle 'n paar lieplappers, was dit maklik om hulle argumente in die wind te slaan. Maar nie so met hierdie vooraanstaande en geliefde vriende van Job nie. Hulle is nie meer snuiters nie, maar grysaards (15:10), ryp in lewenservaring. Hulle sterk en logiese argumente tref Job soos hamerhoue. Hulle misluk nie omdat hulle swak redeneer nie. Hulle misluk omdat hulle uitgangspunt vals is!
    Tog weet Job vir seker dat hulle beskuldiging eenvoudig nie waar is nie. Sy gewete is skoon!

TROOSWOORDE WAT LIEDERLIK SKEEF LOOP

  • Hierdie drie vriende en hulle argumente speel kennelik 'n baie belangrike rol in die boek. Agt-en-twintig van die boek se 42 hoofstukke, oftewel twee-derdes daarvan, word gewy aan die debatte tussen hulle en Job (h. 4-31). Dit volg 'n duidelike patroon.
    Daar is 3 siklusse waarin die vriende beurtelings praat. En kort-kort reageer Job dan daarop. As oudste skop Elifas elke keer af. Mens kry dus die volgende patroon:
    Siklus 1: Elifas (h.4-5). Job (h.6B7). Bildad (h.8). Job (h.9-10). Sofar (h.11). Job (h.12-14).
    Siklus 2: Elifas (h.15). Job (h.16-17). Bildad (h.18). Job (h.19). Sofar (h.20). Job (h.21).
    Siklus 3: Elifas (h.22). Job (h.23-24). Bildad (h.25). Job (h.26-31).
    Opvallend in die laaste siklus, is dat Bildad en Sofar stoom verloor. Bildad praat net 6 verse; Sofar glad nie. Kennelik het Elifas se ekstreme argumente in hierdie derde siklus hulle ietwat verleë gelaat.
  • Wat is die vriende se basiese uitgangspunt? Hulle glo daar is 'n eksakte en direkte verband tussen 'n mens se sonde en jou lyding is. As mens ly, is dit omdat jy op een of ander manier gesondig het  -  en hoe erger die sonde, hoe erger die lyding.
    • Só, meen die vriende, verdedig hulle die Here se saak  -  spesifiek Sy regverdigheid. Daarom, probeer hulle Job aan die verstand bring, kan hy God nie verkwalik vir sy ellendes nie. Dis in werklikheid sy eie skuld, want dis sy eie sonde wat hom nou inhaal.
      In die proses speel hulle in die hand van die duiwel. Hulle bereik presies die teenoorgestelde van wat hulle wil. Want Job weet in die diepste van sy wese dat hy die Here met 'n onverdeelde hart gedien het. As sy smarte dan direk van die Here kom, beteken dit dat God juis nie regverdig is nie, maar  onregverdig. Wat die drie dus in werklikheid bereik, is om 'n verwronge beeld van God vir Job te skets  -  en dit laat hom so hittete knak. Meermale wieg hy oor die afgrond van Godsversaking. En dis natuurlik presies wat Satan wil hê. As Job sy rug op God sou draai, sal sy argument dat Job die Here net dien ter will van die voordele daaraan verbonde, onbetwisbaar wáár blyk te wees.
  • Vir Job is dit allermins net 'n serebrale oefening. Sy vriende se woorde bedreig sy hele bestaan. Hulle hou vir hom 'n God voor wat Sy almag na willekeur gebruik om wie ook al in Sy pad kom te folter  -  'n God wat 'n sadistiese behae daarin het om selfs die vroomste van mense te verbrysel. Hulle dreig om die God in wie hy sy hele lewe lank onbeskryflike vreugde en troos gevind het, by hom te steel. En wat bly dan vir hom oor? As iemand se geloof ooit aan 'n spinnerakdraadjie gehang het, dan is dit Job s'n.
  • En moenie dink dat die drie vriende sommer gou-gou die aftog blaas nie. In hulle misplaaste ywer vir God se eer, draai hulle in elke siklus die skroef stywer aan.
    Aanvanklik is hulle versigtig en konsidererend. Hulle voer aan dat swaarkry in hierdie lewe te wyte is aan sonde in die algemeen. En hoewel daar gewis agter Job se huidige ellende 'n boesemsonde of meer moet wees, is hy eintlik >n goeie mens. Daarom kan hy verwag dat die Here hom weldra tot hulp sal kom.
    In die tweede siklus kom veral Elifas sterker oor. Hy praat nog nie van sondige dade nie, maar suggereer dat Job die Here waarskynlik vertoorn het met sy slinkse woorde (15:5-6).
    En in die derde siklus draai Elifas nie meer doekies om nie. Sonder enige bewyse beskuldig hy Job op die man af van boosheid, en dat hy as ryk man sekerlik sy invloed gebruik het om die armes te vertrap (22:5-9). En dis op hierdie punt wat selfs Bildad en Sofar terugtrek  -  wat te erg is, is te erg.
    • Natuurlik is lyding die gevolg van sonde. Voor die sondeval was daar geen swaarkry nie. En selfs die heiligste mense kan, as hulle beproef word, nie sê dat dit onregverdig is nie. Sofar is reg: in hierdie lewe kry ons nooit al die straf wat ons verdien nie (11:6). Maar, dit beteken nie dat daar 'n presiese korrelasie is tussen ons lyding en ons sonde nie. Die Bybel leer dit nie, en ervaring en waarneming wys ook onmiskenbaar uit dat dit nie waar is nie. As ons oor hierdie dinge nadink, is daar altyd 'n element van misterie.

TOEPASSING

  1. Die basiese denkfout van Job se vriende is dat hulle die mens se verhouding met God  -  hetsy positief, hetsy negatief  -  verstaan in terme van menslike verdienste, in plaas van God se genade. 
    Hier is ons by die fundamentele dwaling van alle teologieë en gelowe wat die bal misslaan: ten diepste is dit die mens wat homself moet red. Hy moet opklim teen die leer van sy eie moraliteit en godsdienstige seremonies. En dit kan wissel vanaf koeksisters bak tot by allerlei liturgiese seremonies en asketisme.
    Die woord van die Here is baie duidelik dat enigeen wat enigsins op homself staat maak om gered te word, homself dan juis diskwalifiseer. Gl 5:2-4 is baie duidelik: Wie homself nog laat besny (godsdienstig-seremoniëel) omdat hy dink dít sal hom vir God aanvaarbaar maak, sal die teenoorgestelde bereik: hy sal nié gered word nie! Christus het vir hom "geen betekenis" nie; hy het sy "band met Christus verbreek"; hy het "die genade van God verbeur". Daar bly gevolglik vir hom net een reddingsalternatief oor: "om die hele wet van Moses te onderhou" (v.3). Waarom? In beginsel is dit makliker om só gered te word as deur Christus plus werke. Want laasgenoemde sal God in der ewigheid nie aanvaar nie.
    Laat ons egter onmiddellik toegee, soms is die dwaling baie subtiel en gering soos in die evangeliese arminianisme van byvoorbeeld John en Charles Wesley. Eintlik was hulle net in hulle formele teologie arminiaans, maar in die praktyk van hulle lewens en bedieninge, asook in hulle hartsbelewinge, deur en deur Godgesentreerd (lees byvoorbeeld Charles se hymns). Sulke mense kan ons aanvaar as medegelowiges  -  maar wat teologies nie alles presies in plek het nie (wie het?).
    Dit beteken egter nie dat ons hierdie mees fundamentele dwaling maar kan geringskat nie. Vir seker sleep hy ook derduisende goeie kerkmense die ewige verdoemenis in.
  2. Yweraars vir die Here wat nie Sy waarheid en weë goed verstaan nie, word maklik Sy opponente. 
    Dit is skrikwekkend maklik om soos Job se vriende te dink dat jy die Here dien en eer, terwyl jy in jou onkunde presies die teenoorgestelde bereik. Die kerkgeskiedenis is vol voorbeelde hiervan. Die mees berugte voorbeeld is seker dié van die kruistogte. En wat van diegene wat met hulle sakralistiese teologie tienduisende gelowiges tereggestel het wat hulleself laat doop het? Dit geld eintlik van alle vervolgings deur die kerk. Wat is erger as misplaaste en verkeerd-gerigte ywer vir God? Laat ons versigtig wees om nie so maklik diegene wat teologies anders as ons dink, selftevrede as sektes af te maak nie.
    Dis lewensbelangrik dat ons God se waarheid moet ken en reg verstaan! Daarom moet ons altyd weer bid dat die Gees van die waarheid ons verlig en lei. En daarom moet ons die historiese Christelike geloof baie, baie ernstig opneem  -  die leerstellige konsensus van die kerk deur die eeue.
    En laat ons onthou, dis nie nodig om God altyd te verdedig nie. Dis een saak om in nederigheid vir die Here en Sy waarheid te getuig; dis 'n ander saak om te maak asof Hy magteloos is sonder jou hulp.
  3. Laat ons nie soos Job se vriende met simplistiese argumente goedkoop salf op andere se pynlike wonde smeer nie. 
    Om 'n getroue getuie te wees, is een saak; maar om 'n beterweterige slimjan te wees, is iets anders. Dis dikwels belangrik om eerder stil te bly  -  of om te erken dat jy nie weet nie. Per slot van rekening is daar 'n duisend dinge wat ons nie verstaan nie. God het eenvoudig nie alles aan ons geopenbaar nie.
  4. Sommige mense ly nie omdat hulle sondaars is nie, maar omdat hulle heiliges is. 
    Wat Job se vriende nog nie verstaan het nie, omdat God dit nog nie geopenbaar het nie, is dat mense nie net ly omdat hulle sondaars is nie, maar dikwels juis ook omdat hulle heilig is  -  en heiliger moet word. Beproewing is dus dikwels nie 'n teken van God se misnoë nie, maar juis van Sy goedkeuring en guns. Beproewing is een van die uitstaande genademiddele in gelowiges se lewens (Hb 12:4vv).

SLOT

In hierdie hoofstukke was ons by die dieptepunt van Job se smarte. Sal hy staande bly in troue lojaliteit aan God? Of is die duiwel reg? In Sy goedheid het die Here nog 'n vriend gestuur  -  en uiteindelik self gekom. Maar dit moet wag vir volgende kere.
Laat ons net hiermee huis toe gaan: die Here dra Sy gunsgenote deur die ergste beproewinge. Want Hý sal toesien dat hulle tot die einde toe volhard. En hierin is niks belangriker as ons hemelse Hoëpriester se voorspraak nie!

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier